Hierdie is die voorgereg. Koop die Maart 2010-uitgawe vir die volledige spyskaart en tydplan.
Genoeg vir: 4-6
Bereidingstyd: 10 minute
Gaarmaaktyd: 20 minute
Oondtemperatuur: 200°C
1 rooi-ui, middeldeur en in skyfies gesny (of gebruik gewone uie)
120 g feta
100 g cheddar, gerasper
8 pikantrissies, in skyfies gesny (of gebruik 1 rooi of geel soetrissie, ontpit en in blokkies gesny)
6 groot eiers
5 ml droë basilie of gemengde Italiaanse kruie (voeg daarby 'n handjie vol gekapte vars basilie of pietersielie as jy het)
50 ml melk
groen mengelslaai om voor te sit (blaarslaai, komkommer, roket, avokado)
balsemiek-asyn en olyfolie om voor te sit
kraakvars brood of rolletjies om voor te sit
1 Verhit 'n bietjie olyfolie in 'n pan en soteer die uie tot netnet sag. Sit 'n bakplaat in die oond terwyl jy dit voorverhit. Smeer en voer 'n vierkantige of reghoekige oondpan uit.
2 Sprinkel die kaas, pikant- of soetrissies en uie in die pan. Klits die eiers, kruie en melk saam. Geur dit na smaak en gooi dit oor die ander bestanddele in die pan.
3 Sit die pan op die warm bakplaat en bak die frittata vir 15 tot 20 minute of tot net-net gestol. Haal dit uit die oond uit. Laat dit effens afkoel en sny dit in blokkies. Sit twee blokkies op elke bord met groen mengelslaai en brood daarby. Sit balsemiek-asyn en olyfolie voor saam met die slaai.
Blink idee
Verander die geur van jou frittata met enige bestanddele wat jy in die koskas het. Gebruik gaar botterskorsieblokkies, soetmieliepitte, broccoli of selfs geblikte, gedreineerde aspersies pleks van die soetrissies. As jy nie feta het nie, gebruik net cheddar. Voeg gekapte ham, salami of spek by as jy vleisliefhebbers gaan onthaal.
Verwante artikels
Frittata met murgpampoentjies en baba-rosatamaties
Quiche met 'n olyfkors en vulsel van geroosterde botterskorsie, rooi uie en brie