Click here for the English Version

Kos & Onthaal

Paasbolletjies met sjokolade [0Kommentaar ]

Stap-vir-stap sjokolade Paasbolletjies

Volg dié maklike stappe om 'n heerlike sjokoladeweergawe van almal se gunsteling-Paaslekkerny te maak.

Maak: 12
Bereidingstyd: 45 minute, plus rystyd
Baktyd: 20 minute
Oondtemperatuur: 200ºC

  • 450g (830ml) witbroodmeel
  • 5ml fyn kaneel
  • 2ml fyn kardemom
  • 50g (60ml) suiker
  • 7g (10ml) droë kitsgis
  • 55g (55ml) sagte botter
  • 215ml louwarm melk
  • 10ml vanieljegeursel
  • 1 groot eier, liggies geklop
  • 100g donkersjokoladebrokkies

VERSIERSEL

  • 60ml witbroodmeel
  • 15ml suiker
  • 15ml melk 
  • 1 groot eier 

1 Sif die meel en die speserye in 'n mengbak saam met 2ml sout. Roer die suiker en gis daarby in. Voeg die botter in 'n aparte bakkie by die melk en roer totdat die botter gesmelt het. Voeg die vanieljegeursel en eier by die melkmengsel.

2 Maak 'n holte in die middel van die droë bestanddele en gooi die vloeistof daarin. Gebruik 'n houtlepel om die droë bestanddele van die kante af in te roer. As dit klaar gemeng is, moet die deeg sag wees, maar nie taai nie. As dit te taai is, moet jy 'n lepel vol meel en melk op 'n slag byvoeg tot jy 'n sagte deeg het.

3 Knie die deeg vir 10 minute op 'n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is, of gebruik die deeghaak van 'n voedselverwerker teen 'n stadige spoed.

4 Bedek die bak met 'n klam vadoek en laat dit eenkant op 'n warm plek rys tot die deeg dubbel die oorspronklike grootte is. Knie die deeg af.

5 Voeg nou die sjokoladebrokkies by. Knie vir 'n paar minute om die sjokolade by die deeg in te werk. Verdeel die deeg in 12 stukke en rol elkeen in 'n bolletjie. Pak die Paasbolletjies langs mekaar op 'n gesmeerde vierkantige of reghoekige bakplaat. Sit hulle 'n entjie uitmekaar sodat hulle plek het om te rys. Laat weer eenkant staan om te rys vir sowat 45 minute, of totdat die Paasbolletjies dubbel die oorspronklike grootte is.

6 Versiersel
Meng die meel en suiker met 60ml water om 'n dik, gladde pasta te vorm. Skep dit in 'n spuitsak met 'n gewone spuit. Gebruik die agterkant van 'n mes om 'n kruis oor die bolletjies te trek. Meng die melk en eier, verf dit oor die bolletjies en spuit dan die pasta in die kruise. 

7 Sit die bolletjies in 'n voorverhitte oond en bak dit vir 15 tot 20 minute tot goudbruin en deurgaar. Haal dit uit die oond uit en laat dit op 'n draadrakkie staan om af te koel. Wanneer die bolletjies heeltemal afgekoel het, kan jy hulle liggies van mekaar lostrek.

Kookwenke

  • Maak tradisionele Paasbolletjies deur die sjokoladebrokkies uit te laat en 120g gemengde droëvrugte (rosyne, sultanas, korente en gemengde sitrusskil) by te voeg. Gebruik ook 5ml fyn gemengde speserye in plaas van die kardemom.
  • Dis baie belangrik om vars gis te gebruik, en om die bolletjies 'n ligte tekstuur te gee moet jy die deeg knie tot dit glad en elasties is.
  • Laat die deeg op 'n warm plek rys, maar dit moet nie aan 'n te hoë hitte blootgestel word nie, want dit kan die gis doodmaak en dan sal die deeg nie rys nie.
  • As jy wil, kan jy die Paasbolletjies 'n lekker taai bolagie gee deur 50ml suiker met 'n bietjie warm water te meng en dan die suikerwater oor die bolletjies te verf sodra dit uit die oond kom en nog warm is.
  • Sit die Paasbolletjies voor op die dag wat jy dit gebak het, of bêre dit in 'n lugdigte houer en sny dit dan middeldeur voor jy dit rooster en voorsit met botter.

Verwante artikels
Dekadente sjokolade fudgekoek

Sjokolade wat jy kan drink

Sjokolade-gevulde teelepels

Sê jou sê
NaamE-posadres
Kommentaar
Tik asseblief die verifikasiekode in.

Kos & Onthaal blogs

Die middel van die maand is gewoonlik 'n slegte tyd om in groot maat te koop, maar toe ek verlede naweek sien hoeveel afslag ons naaste supermark gee op hoender en pakke lamsvleis het ek besluit dit sou dom wees om dié winskopies mis te loop.

deur Diana Procter

Is dit nie snaaks as mens iets sien en dink 'maar ek kan dit mos ook doen' nie? Dan probeer jy dit en dan eers besef jy dis toe nie so maklik nie. Dis wat met my gebeur het toe ek tot een uur op 'n Sondagoggend staan en vye kook het! Die drama het soos volg verloop:

deur Tani Kirsten

Omtrent elke dorp het deesdae 'n fees wat dié dorp se uniekheid vier. En die kos is beslis deel daarvan!

deur Tani Kirsten

Op die tafel langsaan my lessenaar loer 'n hoop soetgoed vir my...

deur Leanne Feris

Ek is op soek na speserye, maar nie jou gewone kerriepoeier en kaneel nie - ek soek dié wat reg uit Indië kom.

deur Tani Kirsten

Ek is die selfbenoemde koningin van kombuisgereedskap en kombuisapparaatjies of -uitvindsels.

deur Tani Kirsten

Hier by ons is dit die afgelope tyd baie dol, dis Tuisgodin-finaliste wat moet afgeneem word, 'n make-over boek wat geskiet moet word, en intussen lê Kersfees se uitgawe en wag vir my.

deur Dala Watts

Ek is lief vir bak. Eintlik is ek baie lief daarvoor. Ek vind dit terapeuties...

deur Tani Kirsten

Ons het Dinsdag die laaste shoots gedoen vir ons Junie-uitgawe.

deur Dala Watts

Soek alle Kos & Onthaal artikels

 Soek           Lys Alles

Mees populêr

  • Mees besoekte artikels
  • Mees besoekte blog artikels
  • Mees gesoekte