Maar is dit regtig so? Of kan hierdie kultivar - met sy hoë suur-inhoud en aanloklike, kraakvars karakter - baat by 'n bietjie tyd in die bottel? Dis 'n debat wat al 'n hele ruk in wynglase ronddraai, en nou het 'n paar mense bymekaar gekom om die gesprek verder te voer.
Is dit nie 'n asemrowende plek hierdie nie? Dis die uitsig van die proe-kamer by die Hidden Valley-wynlandgoed, naby die bopunt van die Annandalepad buite Stellenbosch. Net 'n entjie verder op is Uva Mira, en aan die onderkant sal jy Guardian Peak en Ernie Els se wynplase aantref. 'n Forum en proe-sessie is onlangs hier gehou, om die veroudering - al dan nie - van Suid-Afrikaanse sauvignon blanc te bespreek.
Die proe-sessie het blind geskied (ons het nie geweet watter wyn was in watter glas nie), en daar was altesaam ses wyne: drie van Lands End naby Agulhas, en drie van Hidden Valley. Die oesjare het ingesluit 2007, 2008 en 2009. Die mense wat kom proe het was 'n interessante 'versnit' van verteenwoordigers uit die media en wynbedryf.
'n Paar van hulle was oortuig dat 'n sauvignon van gehalte en karakter uit 'n koel klimaat noodwendig goed sal verouder. Waarop die skeptici gesê het: 'Bewys dit.'
Die wyne was almal goed, maar toe ons uiteindelik uitvind watter wyne ons geproe het, het ons almal saamgestem dat enige vooropgestelde idees by die venster uitgevlieg het. Want ten spyte daarvan dat ek geglo het 'n ouer wyn sou wen, was die eenparige besluit dat almal se gunsteling die Lands End 2009 was.
Die Hidden Valley was naasbeste - ook 2009. Dit wys maar net weer dat verlede jaar so 'n uitstekende oesjaar vir sauvignon blanc was (party mense glo die beste in hul leeftyd), dat dit eintlik onregverdig is om die ander twee oesjare daarteen te meet.
Toe die 2009-wyne buite rekening gelaat is, het die Hidden Valley 2008 die twee wyne van 2007 met 'n haarbreedte uitgestof, met die 2008 Lands End kort op hul hakke.
Ons was dit eens dat 'n mate van kompleksiteit met verloop van tyd ontwikkel het, en dat die druif se kenmerkende suur-inhoud effe gekalmeer het om dit nou beter te integreer met die vrugtigheid daarvan.
Sommige van die wyne het 'n spatsel semillon in en ons het almal saamgestem dat dit die roete is om te volg in terme van veroudering, tesame met die ligging van die wingerd, oesjaar, analise, die filosofie van die kelder, en 'n handvol ander faktore. Maar die finale woord oor die veroudering van sauvignon blanc? Daaroor debatteer ons nog ...
Hierdie drie dinge weet ek wel: Al ses wyne was uiters drinkbaar (talle van ons het na die tyd gebly om nog meer hiervan te doen; met heerlike peuselhappies daarby); die 2009's laat jou tone omkrul van lekkerkry; en toe ek die Lands End 2006 onlangs raakloop, het ek nie 'n oomblik gehuiwer om 'n hele paar bottels aan te skaf nie. Die wyn was nog heerlik vars, maar met 'n bietjie ouderdom vir ekstra woema.
Ouer oesjare se pryse word dikwels afgemerk as deel van spesiale aanbiedinge (waarskynlik omdat hulle nie so goed verkoop nie), so as jy 'n paar halfprys 2007 of 2008 sauvignons sien van goeie produsente en wat uit 'n koel area* kom, moenie op jou laat wag nie - koop hulle daar en dan. Dis 'n heerlike wyn om saam met kos te geniet, so hou altyd 'n bottel vir aandete, of as 'n skemerkelkie. Jy sal aangenaam verras word.
* Koel areas vir sauvignon sluit in Constantia, Elgin, Walkerbaai en Durbanville.